Plasings

Wys tans plasings vanaf Julie, 2017

Strepe truitjie vir 'n streepmuis

Prent
Ek het laasjaar 'n truitjie begin hekel. Hierdie patroon kom uit die "Hekel saam met Vrouekeur vir Meisies, no3" boekie van Vrouekeur deur Christa Swanepoel. Die wegwerk van die wolle van die strepe is egter baie moeite! Mikyla het te vinnig gegroei so die truitjie is te klein vir haar, so dit gaan welsyntas toe. Mikyla kan darem die haarband dra. Ek sal met graagte die patroon aanstuur as julle my vra.

Poncho pret

Prent
Mikyla kuier die vakansie by haar ouma in Boshoff. So wil ek vir haar 'n japon maak maar my kinders wou dit nooit dra nie. So, hoekom nie 'n warm fleecy poncho nie? Die kan sy sommer aanhou as die sonnetjie yl is. Sommer dubbeld gemaak vir dubbele warmte. En was sy nie ingenome nie!. Dis bietjie groot maar sy sal dit dan volgende jaar weer kan dra. Ek wil nou nog vir haar 'n enkellaag poncho maak want die een is baie warm. Hier is die link wat  my die idee gegee het. Ek het myne nie omgehekel nie. https://thegreendragonfly.wordpress.com/2013/07/10/reversible-poncho-with-a-crochet-edge/ Ek sal tog volgende keer onthou om poplap se deurmekaar krulkop te tem voordat ek die foto neem!

'n Mus vir die koue

Prent
5 Julie 2017 Die winter byt maar Mikyla kry nie koud nie. Hier is sy met 'n mussie wat by haar truitjie pas. Dit hekel sommer in 'n japtrap. Wat dit 'n lekker patroon maak is dat dit in verskeie groottes bekikbaar is. Die patroon is 'n treffer en hier is die skakel: http://mangotreecrafts.blogspot.co.za/2015/02/free-basic-beanie-crochet-pattern-all.html Ek is lief daarvoor om met 'n patroon te speel (word gou verveeld, sien). So het ek sommer nog 'n mus gebrei. Net die steek-patroon effe verander. Ek was  verras om te sien hoe oulik die streep in 'n spiraal uitgewerk het. En vir die skop het dit 'n blom en pom-pom gekry.

''n Hekeltrui vir 'n Dogter

Prent
Wintergroete uit die Noord-Kaap, Ek dreig al so lank om 'n blog te doen, en hier is dit uiteindelik. So, hier deel ek met julle sommer goeters, katoeters en geite. Julle wat my ken weet ek het 'n peetdogtertjie 'aangeneem' waarmee ek "ouma" speel. Sy is ook my guinea-pig en ek brei en hekel gereeld truitjies en goeters vir haar. Ek plaas dus graag 'n foto van haar en 'n truitjie wat ek gehekel het asook die skakel na die gratis patroon. http://www.redheart.com/free-patterns/fun-time-cardigan As ek 'n kansie kry sal ek die patroon in Afrikaans vertaal, sou julle wou. Mikyla het vinniger gegroei as wat ek gedink het, maar om die probleem op te los het ek sommer die ribs langer gehekel en 'n randstrook rondom die pante voordat ek dit aanmekaar geheg het. Dit het die nodige spasie gegee wat ek nodig gehad het. Groete dan tot volgende keer ... Ansie