'n Serpie vir die pad

Hekel ‘n veelkleurige halsdoek serp
Sommer laas week vir 'n vinnige heen-en-weertjie saam met goeie vriende Mosambiek toe. In Villa Flippennice net anderkant Xai-Xai gebly en dit baie geniet. Die enigste nadeel was dat die pad baie lank was.
https://www.facebook.com/FlippeniceVilla/

Oppad soontoe het ek sommer blokkies gehekel  om myself besig te hou. Oppad terug het ek my vriendin die basiese beginsels van hekel geleer en sommer vir haar 'n serpie gehekel.

Ek het van driedubbel langbene gebruik gemaak met 'n lekker chunky veelkleurige wol  (ek het 1 bol gebruik) en 'n 5mm hekelpen.



Hoe om die serp te hekel

  1. Hekel ‘n ketting van 20 kettingsteke. Hekel nou 4 kettings by (dit is die draai steek). 
  2. Wol oor pen 2 keer. Steek pen in die 5e kettingsteke van die pen.
  3. Wol oor pen en trek pen met wol terug deur die kettingsteek. Jy sal dan 4 lussies op jou pen hê.
  4. Wol oor pen en trek deur eerste 2 lussies op die pen.
  5. Wol oor pen en trek deur die volgende twee lussies op jou pen.
  6. Wol oor pen en trek deur die laaste 2 lusse op jou pen.
  7. Jou 1e driedubbele steek is nou voltooi. Jy moet 1 lus oorhê op jou pen.
  8. Wol 2 keer oor pen. Steek jou pen in die volgende ketting van jou basis ketting.
  9. Herhaal die metode soos bo verduidelik om jou volgende driedubbele been te maak.
  10. Gaan so voort en werk een driedubbele been in elke kettingsteek tot aan die einde van die basis ketting.
  11. Jy moet 20 driedubbele bene in jou 1e ry hê. (die draai kettingsteek tel as jou 1e been).
  12. Draai jou werk om met jou 2e ry te begin.
  13. Maak 4 kettingsteke vir die draai steek.. Wol oor pen 2 keer.)
  14. Slaan die 1e steek van die ry direk onder die draai steek oor. Steek pen in die volgende steek.
  15. Deur die 1e steek oor te slaan hou jy die rye se hoeveelheid steke dieselfde.
  16. Herhaal die stappe deur ‘n driedubbele been in elke boonste ketting van elke been van die vorige ry te werk en voltooi die ry.

Tel na elke ry jou bene om seker te maak dat jy 20 bene het. (onthou jou draaiketting tel as 1 been).

Voltooi die serp:
Wanneer die serp lank genoeg is (of die wol amper klaar), heg as volg af: (onthou om genoeg wol oor te los om mee vas te hekel.)
Aan  die einde van die laaste ry het jy 1 lus oor op jou pen. Trek die laaste wol deur die lus.
Jy kan die twee kante plat hou of soos ek gemaak het oorkruis vou vir ‘n mooier effek.
Jy kan die wol afsny en met ‘n wolnaald die twee kante heg. Ek het dit met kort beentjies vasgehekel.
 
Heg vas:
Die glipsteek word gebruik as jy die naat wil wegsteek. Jy werk met die regterkante teen mekaar so die naat word aan die verkeerde kant gewerk.
‘n Kortbeentjie naat word dieselfde as die glipsteek naat gemaak, behalwe dat die glipsteek met die kortbeentjie vervang word. ‘n Kortbeen naat is stewiger en maak ‘n interessant rif. In die geval van die serp is die naat skaars waarneembaar. Die kortbeentjie naat word met die verkeerde kante na mekaar gewerk. (Dit vorm dan ‘n buitenaat). Werk die naat soos ‘n gewone hekelry van regs na links.
  1. Begin deur die pen van voor na agter in die regterkantste kettingsteek deur beide die lae te steek.
  2. Wol oor naald en trek die naald terug na die voorkant van die werk.
  3. Wol oor naald en trek deur beide lusse op die pen.
  4. Druk nou die pen deur die volgende twee steke van die twee lae.
  5. Wol oor naald en trek die naald terug na die voorkant van die werk. Wol oor naald en trek deur beide lusse op die pen.
  6. Gaan voort deur kortbeentjies deur die steke van elke laag te hekel tot aan die einde.
  7. Trek die wol deur die laaste lus om dit af te heg en werk dit met ‘n wolnaald weg.

 
 Kontak my gerus om die PDf weergawe te kry om te druk.

Geniet jou serp!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon