Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Die basiese Ouma patroon is en bly maar altyd 'n wenner vir enige kombers. Dit is ook ideaal vir knie-komberse en oorskietwol en ideaal vir beginners.

Hierdie is ook die basiese patroon wat ek vir troosbersies gebruik het. (Ek sal in opvolgende skrywe verduidelik hoe ek die brakkies en olifante gemaak het.)

Hierdie is my 1e poging om my patrone neer te skryf. Dit is harde werk maar dit is net die begin! Ewenwel, as jy die patroon probeer en jy kry 'n fout of hak vas, kontak my asseblief dat ek kan help of regstel.

DIE BASIESE OUMA-KOMBERS:
‘n Ouma-blokkie of kombers (wat eintlik net een GROOT ouma-blokkie is, word in die rondte gewerk. Die blok vorm 4 hoeke en elke ry word herhaal totdat die kombers of blok die grootte is wat jy wil hê.  Dit is ‘n lekker kombers om te werk as jy nie baie wol van een kleur het nie. Interessante effekte kan geskep word deur met verskillende kleure wol te speel en dit te wissel. 
Dit is ook ‘n lekker om sommer met verskillende randte te speel (as jy meer as een kombers maak. Ek bespreek dit later).
Natuurlik kan jy ook kleiner ouma blokkies hekel en dit aanmekaar werk. Die blokkie kan dan enige iets van drie tot 6 rye bestaan, afhangende hoe groot jy elke blokke wil maak. Die norm is gewoonlik vyf.
Jy kan van enige dikte wol en bypassende grootte naald gebruik maak vir die kombers, solank al die wol wat jy gebruik dieselfde dikte is. Onthou egter net dat hoe dikker die wol en groter die naalde, hoe vinniger die eindproduk. Maar as jy sommer net ‘n fyn babakombersie wil hekel, gebruik gerus babawol en ‘n dun naald.

AANWYSINGS:
Ek gaan nie in die aanwysings die kleure wissel nie, maar jy kan van een of meer kleure gebruik maak.

Die basiese ouma blokkie word gehekel in trossies van 3 langbene elk. In baie patrone word die trossies van langbene geskei deur 1 of 2 kettingsteke. Ek verkies egter net om die kettingsteke in die eerste ry te maak om hoeke te vorm en dan verder in die hoeke te gebruik en nie tussen die trossies nie, omdat dit soms maak dat die kombers skeef trek of rimpels maak.

AFKORTINGS:
Gs        =          glipsteek
Ks        =          kettingsteek
Lb        =          langbeen

HOE OM TE BEGIN:
1.   Begin deur ‘n glipsteek op jou naald te maak. Maak 6 ks.
2.   Gs in die 1e ks. Dit vorm ‘n ring.
 3.   Maak nou 3 ks.  (hierdie tel as jou 1e lb)
4.   Maak nou 2 lb in die ring.
5.   Maak 2 ks en maak dan 3 lb in die ring. Herhaal dit 2 maal. (Jy moet nou ‘n totaal van 4 trossies met 3 lb elk hê met 2 ks tussen elke trossie. Hierdie vorm ry 1.)
6.   
6. heg en gs tot by die 2 ks-spasie.
7.  In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou 1e hoek.
8.   In die volgende ks-spasie, maak 3 lb. Maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm die volgende hoek. Herhaal in die volgende 2 ks-spasies om jou 4 hoeke te vorm. (Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke). Moenie bekommer as dit lyk of jou werk wil krul nie, dit sal herstel soos jy vorder.
9.   Heg aan volgende lb met gs. Gs tot in die volgende hoek.
10. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb.
11. Maak 3 lb in die volgende oop spasie.
12. In die volgende hoek, maak 3 lb, maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm dan die hoek. (Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke).
13. Herhaal stap 12 en 13 om die hoeke en rye te vorm. Gs om te heg en gs tot in volgende hoek.
14. Stappe 10 tot 14 vorm die basiese patroon.

Onthou/ Wenke:
·      Met elke ry sal die middelste trossies van 3lb meer word soos wat jou blok groter word.
·         Onthou om net in die hoeke 2ks te maak en nie tussen die trossies in die ry nie.
·       As jy kleure verwissel, heg af met die laaste gs van die ry en heg aan in die hoek met 3 ks om 1 lb te vorm.
·         Gebruik wol van dieselfde dikte anders sal jou kombers rimpel.
·         Hekel jou kombers tot die grootte wat jy wil hê.
·         ‘n Rand is opsioneel maar lyk altyd afgerond.
·      Om die gaatjie in die middel kleiner te maak, (as jy klaar is met jou blok) werk met ‘n stopnaald die wolstert deur die 1e ry kettingsteke. Dit is moeilik om die naald in die rondte te kry, so druk die naald deur van die steke, trek deur en steek dan deur die ander steke.  Trek dan die wolstert  en die gaatjie sal kleiner word. Werk die wolstert weg en knip af.

Wenk:
Om wol sag te maak, week item in haarversagter (hair conditioner). 

 Hier is sommer net 'n oorskietwol kombers wat ek hekel soos ek 'n wolletjie oor het. 

GRATIS!
Kontak my gerus en laat jou epos adres as jy hierdie patroon op PDF wil ontvang.

Opmerkings

  1. Jy verduidelik baie mooi

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie vir die wyse waarop jy verduidelik..verstaanbaar

    AntwoordVee uit
  3. Jy verduidelik baie mooi. Het begin met een maar n groot gemors, trek skeef en wobble. Dankie vir jou raad, kan jy asb vir my die PDF patroon stuur. Dankie

    AntwoordVee uit
  4. My epos voslooamanda75@gmail.com

    AntwoordVee uit
  5. My epos is nicohleroux@gmail.com

    AntwoordVee uit
  6. lizette.rossouw@yahoo.com

    AntwoordVee uit
  7. Magda e-pos nagel.magda@gmail.com

    AntwoordVee uit
  8. Groot asb mag ek die patroon pdf kry. Sal dit baie waardeer.
    carinlaesecke@gmail.com

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Youngpetro0@gmail.com vir pdf patroon asseblief

      Vee uit

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Gebreide sokkie patroon