Grys Brakkie Troosbersie

Dit is tyd vir babas die jaar en ek is gevra om iets vir die kleingoed te maak.

Ek het twee brakkie troosbersies gemaak. Beide is gemaak van 'n lekker Chunky wol en meer as een kleur. Die kombersies kan so groot wees as wat jy hulle wil maak. Die algemene grootte vir 'n troosbersie is tussen 35cm en 45 cm.

Weereens is  die bersie gemaak deur die Ouma-blok (granny square) patroon te gebruik. Sien gerus my patroon op my blog.

Afkortings in hierdie patroon gebruik:
gs:     glipsteek
ks:     kettingsteek
kb:     kortbeen
rnde:    rondte
2kbtes: 2 kortbene tesame




RAND:
Hekel enige randjie waarvan jy hou. Gebruik 5mm naald en kleur van jou keuse.


Ek het die volgende gedoen:
Ry 1: kb in elke steek van die bersie se laaste ry.
Ry 2: Maak ‘n kb net in elke 2e kb van die vorige ry. Maak 5 ks tussen elke kb. Gs.
Ry 3: Maak  'n trossie (kb, hlb en lb, lb, hlb, kb) in elke ks spasie. Heg af.


Grys Brakkie:

Die brakkie is saamgestel as volg:

KOP:
Gebruik ligte grys wol en 5mm naald.

Nota: Dit is makliker om die ogies, snoet en ore vas te werk voordat jy die kop opstop.
Gebruik die wolstert om die kop toe te trek en vas te werk aan die bersie.
Jy kan na rondte 13 die voorste deel van die kop opstop en dan begin verminder indien dit vir jou makliker gaan wees.


Begin deur 2 kettingsteke te maak.
Rnde 1: Werk 5kb in die 2e ks van die pen.
Rnde 2: Werk 2kb in elke steek in die rondte, gs. (10kb)
Rnde 3: Maak 1 kb en dan 2kb in die volgende steek. Herhaal in die rondte, gs. (15kb)
Rnde 4: Maak ‘n kb in elke steek in die rondte, gs. (15kb)
Rnde 5: Maak ‘n kb in die eerste 2 kb steke, dan 2kb in die volgende steek. Herhaal in die rondte, gs. (20kb)
Rnde 6: Maak ‘n kb in die eerste 3 kb steke, dan 2kb in die volgende steek. Herhaal in die rondte, gs. (25kb)
Rnde 7-13: Maak ‘n kb in elke steek in die rondte. Herhaal aaneen, moenie gs na volgende rondte nie.
Rnde 14: Verminder deur 2kb tesame te hekel, kb dan in die volgende 4 steke. Herhaal in die rondte.
Rnde 15: Verminder deur 2kb tesame te hekel, kb dan in die volgende 3 steke. Herhaal in die rondte.
Rnde 16: Verminder deur 2kb tesame te hekel, kb dan in die volgende 2 steke. Herhaal in die rondte. Gs en heg af. Laat ‘n lang stert om te gebruik vir vaswerk.


ORE:
Maak 2 ore. Gebruik 5mm hekelpen. Ek het donkergrys wol gebruik.
Maak die ore dieselfde as die pote. Tel elke rondte versigtig anders is een oor grote as die ander.

Begin deur 2 kettingsteke te maak.
Rnd 1: Werk dan 5 kb in die 2e ks van die pen. 
Rnd 2-10: Maak kb in elke kb aaneenlopend. (nie gs na elke rondte nie).
Rnd 11: Maak 2kbtes in elke kb in die rondte. Heg af met gs. Laat stert van wol oor.
Neem die stert van die wol, ryg dit deur die laaste rondte se steke en werk die oor bo toe. Moet nie die oor toetrek nie, dit moet plat langs die kop afhang.

Nota: Werk die ore vas aan die kop aan beide kante. Die ore word nie opgestop nie.

POTE:
Maak 2 pote. Gebruik 5mm hekelpen. Ek het donkergrys wol gebruik.

Begin deur 2 kettingsteke te maak.
Rnde 1: Werk dan 5 kb in die 2e ks van die pen. 
Rnde 2 - 10: Maak kb in elke kb aaneenlopend. (nie gs na elke rondte nie).
Rnde 11: Maak 2kbtes in elke kb in die rondte. Heg af met gs. Laat stert van wol oor.
Stop die pote effe op. Die pote kan dikker na voor as na agter wees.

Neem die stert van die wol, ryg dit deur die laaste rondte se steke en trek die poot bo versigtig toe. Die poot moet meer plat as rond gestop wees.

Nota: Die pote word saam met die kop  in die middel van die bersie vasgewerk.

SNOET:
Gebruik wit wol en 5mm hekelpen.

Begin deur 2 kettingsteke te maak.
Rnde 1: Maak 2kb in elke kb in die rondte, gs. (10kb)
Rnde 2: Maak 1 kb en dan 2kb in die volgende steek. Herhaal in die rondte, gs. (15kb)
Rnde 3: Maak ‘n kb in die eerste 2 kb steke, dan 2kb in die volgende steek. Herhaal in die rondte, gs. (20kb)
Rnd 4-6: Maak ‘n kb in elke steek in die rondte.

Nota: Stop die snoet nadat jy die neus vasgewerk het. Werk die snoet in die middel nader aan die onderkant  van die kop van die brakkie vas.   

NEUS:
Gebruik swart wol:

Begin deur 5 kettingsteke te maak.
Ry 1: Maak 2kb in die 2e ks van die pen. (4kb) Draai.
Ry 2: Verminder deur 2kb tesame te hekel, 2 keer. (2kb)
Ry 3: Verminder deur die laaste 2 steke tesame te hekel. (1kb)
Maak nou 4 ks.

Nota: Werk die neus in die middel van die snoet met die ketting afwaarts.

OGIES:
Daar is baie mense wat gebruik maak van veiligheidsogies wanneer hulle gebreide of gehekelde speelgoed maak. Dit is seker mooier, maar buiten die feit dat ek in ‘moerlandspan’ bly en nie altyd die regte ogies kan kry nie, is my groot bekommernis dat die ogies dalk kan afbreek en in die kleinding se keel beland.






So kom ons maak die basiese ogies vir ‘n speelding:
Gebruik dieselfde dikte wol (of dunner) in swart en wit, om die ogies te maak. Die
grootte van die pen sal die grootte van die ogies bepaal.

Maak 2 ogies deur van wit en swart wol gebruik te maak. Ek het ‘n kleiner pen gebruik, 3.5mm sodat ogies mooi dig kan vertoon. As die ogies te klein lyk, hekel 3 i.p.v. 2 rondtes of gebruik groter pen.

Begin deur 2 kettingsteke te maak.
Rnde 1: 10 kortbene in 2e ketting van die pen.  Heg met glipsteek. (10 kb).
Heg af.
Rnde 2: Gebruik wit, heg aan enige van die kortbene en maak 1 kettingsteek.
Maak 2 kb in die volgende kb en in elke kb van die vorige rondte. Heg met gs. (20 kb)
Heg af maar laat ‘n lang stert wol.

Werk alle los drade behalwe die lang stert weg.
Gebruik die stert van die wol om die ogies aan die gesiggie vas te werk.

Kontak my gerus as jy hier 'n meer breedvoeriger verduideliking wil hê.


Indien jy enige foute in die patroon raaksien, kontak my asseblief sodat ek dit kan herstel. Lekker hekel!

Vir 'n oulike labrador patroon wat gratis in Engels beskikbaar is, kliek gerus hierdie skakel:

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon