Randjie vir 'n hoek-tot-hoek kombersie. (Corner to corner C2C)

So, my corner to corner kombers is uiteindelik klaar. Dit vat my twee winters om 'n kombers klaar te maak, maar die lekker daarvan is om onder die kombers warm te broei terwyl jy dit hekel.


Ek het hierdie C2C met Kismet Yarns se Cascade gehekel met 'n 3,5mm naald. Ek sal dalk volgende keer 'n 4mm naald gebruik.

Die eindresultaat met die variëteit kleur draad is treffend en die kombers is baie warm. Ek het myne groot genoeg gehekel vir 'n kot of kleuter om nog lank te kan gebruik. Dit is selfs groot genoeg vir 'n kniekombers.

Die C2C patroon is algemeen op die internet te kry. Ek kon nie op 'n  randjie besluit nie en het op die ou end my eie ontwerp. Ek plaas die patroon hieronder. Die patroon het perfek uitgewerk en het ook 'n netjiese hoek afgerond. Ek het 'n gewone roomkleur vir die rand gebruik en dit ook met 'n 3.5mm naald gehekel.

RANDJIE VIR 'n C2C:

Nota:
Gebruik dieselfde dikte draad in kontrasterende kleur en dieselfde nommer naald as vir die kombers.
Moelikheidsgraad: Medium

Afkortings:

gs = glipsteek
ks = kettingsteek
kb = kortbeen
hlb = halwe langbeen
lb = langbeen
tlb = driedubbel langbeen

Ry 1:
Heg die kontraskleur wat u vir die rand wil gebruik enige plek tussen twee C2C blokkies met 'n glipsteek. Maak 3 ks.
Maak 'n kb in die spasie tussen die volgende twee blokkies.
Maak 2 ks en maak weer 'n kb in die spasie tussen die volgende twee blokkies.
Herhaal hierdie ry reg rondom.
Hoek:  Maak 3 ks ipv 2 in die hoek se spasie

Ry 2:
Heg met 'n gs en maak 2 ks in om 'n langbeen te vorm.
Maak in die kettingspasie tussen die vorige ry se kortbene 2 lb.
Maak 'n lb in die vorige ry se kb.
Herhaal reg rondom deur in die ks spasie 2 lb te maak en 'n kb in elke kb van vorige ry.
Hoek: Maak 2lb, 1 ks en 2lb in hoek se spasie.

Ry 3:
Heg met 'n gs.
Maak 'n lb aan weerskante van die vorige ry se enkel lb.
Maak 3 ks (bo-oor die dubbel langbene van die vorige ry).
Maak weer 'n lb aan weerskante van die vorige ry se enkel lb. Maak weer 3 ks.
Herhaal rondom die kombersie.
Hoek:
Wanneer by die hoek kom, maak die 2 lb aan weerskante van die vorige ry se enkel lb, maak 3 ks, maak 2lb in die hoek, maak 3 ks. gaan voort in patroon.


Ry 4:
Ry 4 vorm die kartelrant.
Heg met 'n gs. Maak 'n kb tussen die 2 langbene van vorige ry.
In die ks spasie werk as volg: 1hlb, 1lb, 1tlb, 1lb, 1hlb.
Maak weer 'n kb tussen die 2 langbene van vorige ry.
Herhaal rondom.
Hoek:
Hierdie patroon werk perfek in die hoek uit sonder om enige aanpassings te maak.

Heg met gs en heg af.
Werk woldraad weg.



 Geniet die patroon en kontak my asseblief as daar daar 'n fout op is.

 Hieronder is twee pragtige C2C kombersies deur my goeie vriendin, Marietjie Burger, gehekel. Sy het weer  die "Wave" randjie van Bella Coco gebruik. Hier is die skakel: https://youtu.be/mim4dNbgxnY na die video.





Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon