Bobbelbersie vir baba met Troosbersie daarby



Ek moes 'n skapie troosbersie vir 'n nuwe babadogtertjie maak, maar die wol was so sag, ek het sommer 'n bobbelbersie ook gemaak.

Die kombersies is eintlik met die springmieliesteek gemaak, maar dit staan ook bekend as bobbelsteek.


Die patroon is eintlik net 'n ander weergawe van die ouma-blokkie kombers.
Omdat hierdie patroon baie wol gebruik het ek nie die bababersie soos met die troosbersie elke steek in 'n ry bobbelsteek gemaak nie, maar slegs die steek aan weerskante van elke hoek die bobbelsteek gewerk.

Jy kan natuurlik hiermee speel soos jy wil, elke steek, elke 2e steek of elke 2e ry, net soos jy wil. Enige effek sal in elke geval baie mooi wees.


Moeilikheidsgraad:
Intermediêr

Benodighede:
Ek het 2x100g bolle grys en 4x 100g bolle pienk DK vir alles gebruik.
(1/2 pienk en 1/2 grys vir die troosbersie, die res vir die bababersie)

Die wol:
Kartogo van Turkye.

Elle Gold Baby DK sal 'n goeie plaasvervanger wees.
5mm hekelnaald
Naald vir drade wegwerk en skapie vaswerk
Vulsel vir die skapie
2 veiligheidsogies
klein bietjie swart vir die neusie se borduur

Afkortings:
gs = glipsteek
ks = kettingsteek
kb = kortbeen
hlb = halwe langbeen
lb= langbeen
bob= springmielie (bobbel)

Steke:
Picot = maak lb, ks 5, heg met gs aan 1e ks om picot te vorm

Bobbel = 1kb, "maak lb in dieselfde spasie maar trek sleg deur 1e lus (2 lusse op naald), herhaal 5x deur lb in dieselfde spasie te maak en slegs deur 1e lus te trek totdat daar 6 lusse op die naald is. Trek draad nou deur al 6 lusse om bobbelsteek te vorm", maak 1 kb in dieselfde spasie om mooi af te rond.

Bababersie:

Met pienk, begin deur 4 ks maak, heg met gs om sirkel te vorm.

Ry 1: Maak 3 ks en dan 2 lb in sirkel, 1ks, 3lb, 1ks. Herhaal.
(Jy moet nou ‘n totaal van 4 trossies met 3 lb elk hê met 2 ks tussen elke trossie. Hierdie vorm ry 1.) Heg met gs.


Ry 2: Gs tot by ks spasie tussen trossies. Maak 3 ks en dan 2 lb om 1e trossie te vorm.
Maak 2 ks en weer 3lb in dieselfde spasie. Hierdie vorm jou 1e hoek. 
In die volgende ks-spasie, maak 3 lb. Maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm die volgende hoek. Herhaal in die volgende 2 ks-spasies om jou 4 hoeke te vorm. Heg met gs.

Ry 3:  Gs tot in hoek. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou hoek.
Maak nou 1ks, in die volgende oop spasie, maak 1 kb, vorm nou die bobbelsteek in dieselfde spasie, maak 1kb in dieselfde spasie, maak 1 ks.
Vorm nou weer 'n hoek.
Herhaal reg rondom.
Jy sal nou 'n 4 hoeke en 4 bobbels tussen die hoeke hê.

Ry 4: Heg aan en gs tot in die volgende hoek. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou hoek. 
In die ks spasie voor die bobbel, maak 3 lb.
In die ks spasie na die bobbel, maak 3 lb.
Herhaal rondom en heg met gs.

Ry 5: Gs tot in hoek. Vorm jou hoek.
Maak nou 1ks, in die volgende oop spasie, maak 1 kb, vorm nou die bobbelsteek in dieselfde spasie, maak 1kb in dieselfde spasie, maak 1 ks.
Maak 3lb in die volgende oop spasies.

Ry 4 en 5 vorm jou patroon. Jy maak 'n bobbel steek in elke 2e ry in die spasie voor en na die hoeke. In die ander spasies maak jy net jou lb trossies. 

Herhaal totdat jou kombersie groot genoeg is. (Myne is ongeveer 80cmx80cm). Sien die diagram met groottes onder aan die blog. Onthou net indien jy hom groter maak met jy meer wol hê.

Die randjie:

Ry 1: Heg aan met grys in hoek. Vorm hoek en herhaal die patroon van 3been trossies in elke spasie reg rondom.
Heg met gs. 
Ry 2: Vorm hoek. Vorm 'n bobbelsteek in elke spasie tot by volgende hoek. Herhaal reg rondom. Heg af.

Bobbelsteek = (1kb, "maak lb in dieselfde spasie maar trek sleg deur 1e lus (2 lusse op naald), herhaal 5x deur lb in dieselfde spasie te maak en slegs deur 1e lus te trek totdat daar 6 lusse op die naald is. Trek draad nou deur al 6 lusse om bobbelsteek te vorm", maak 1 kb in dieselfde spasie om mooi af te rond.)


Die SkapieTroosbersie:

Met pienk, begin deur 4 ks maak, heg met gs om sirkel te vorm.

Ry 1: Maak 3 ks en dan 2 lb in sirkel, 1ks, 3lb, 1ks. Herhaal.
(Jy moet nou ‘n totaal van 4 trossies met 3 lb elk hê met 2 ks tussen elke trossie. Heg met gs.

Ry 2: gs tot by ks spasie tussen trossies. Maak 3 ks en dan 2 lb om 1e trossie te vorm.
Maak 2 ks en weer 3lb in dieselfde spasie. Hierdie vorm jou 1e hoek. 
In die volgende ks-spasie, maak 3 lb. Maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm die volgende hoek. Herhaal in die volgende 2 ks-spasies om jou 4 hoeke te vorm. Heg pienk af.

Ry 3: Met grys, heg aan in die volgende hoek. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou hoek.
Maak nou 1ks, in die volgende oop spasie maak 1 kb, vorm nou die bobbelsteek in dieselfde spasie, maak 1kb in dieselfde spasie, maak 1 ks.
Vorm nou weer 'n hoek.
Herhaal reg rondom.
Jy sal nou 'n 4 hoeke en 4 bobbels tussen die hoeke hê.

Patroon:
Ry 4: Met pienk, heg aan in die volgende hoek. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou hoek. 
In die ks spasie voor die bobbel, maak 3 lb.
In die ks spasie na die bobbel, maak 3 lb.
Maak die volgende hoek en herhaal reg rondom en heg met gs.

Ry 5: Nog met pienk, heg aan met gs. Gs tot in die volgende hoek. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou hoek. 
Maak in elke spasie 3 lb tot by volgende hoek. Herhaal reg rondom. Heg af. 
(Moet nie in hierdie rye enige ks tussen jou trossies maak nie, slegs in die hoek).

Ry 6: Met grys heg aan in die volgende hoek. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou hoek.
Maak nou 1ks, in die volgende oop spasie, maak 1 kb, vorm nou die bobbelsteek in dieselfde spasie, maak 1kb in dieselfde spasie, maak 1 ks. 
Herhaal in elke oop spasie tot by die hoek.
Vorm nou weer 'n hoek.
Herhaal reg rondom.

Hierdie 3 rye vorm jou  patroon (i.e. 2 rye pienk langbeen trossies en 1 ry grys bobbels).
Herhaal  totdat jou bersie die grootte is wat jy wil hê.

(myne is ongeveer 40 x 40 cm / 14 rye.)

Randjie:
Sorg dat jou laaste ry van jou kombersie pienk langbeen trossies is. Heg af.

Met grys:
Heg aan in hoek. Vorm hoek deur lb trossie te maak. I.p.v. die ks tussen die 2 langbeen trossies maak 'n picot deur 5 ks te maak en dan die laaste ks in die 1e ks te heg.
Vorm nou die 2e trossie lb vir die hoek.
Maak 'n kb in elk van die 2 langbene van die vorige ry.
In die volgende oop spasie, maak 1hlb, maak 'n lb, vorm 'n picot, maak 1 hlb. Maak 'n kb in elk van die volgende 2 langbene van die vorige ry.
Herhaal hierdie reg rondom.

Die skapie:

Ek bieg dat hierdie skapie nie my patroon is nie, maar ek gee graag die skakel na die gratis patroon:

Heg die skapie vas:
Ek gee graag 'n foto van hoe ek die skapie aan die agterkant vasgewerk het deur die grys in die eerste 2 rye van die kombers deur te weef.
















Gids na kombersgroottes:

KOMBERS GROTES
Breedte cm
Lengte cm
Liefie
25
25
Troos
36
43
Baba ontvangs
76
89
Toedraai
102
102
Kleuter
107
132
Toegooi
119
119
Wiegie/kot
114
152
Oorgooi
132
152
Driekwart/enkel
168
229
Dubbel
229
274
Koningin
244
274
Koning
274
274


Laat asseblief kommentaar indien u iets nie verstaan of indien daar 'n fout op die patroon is. 
Lekker hekel!

(c) A. de Vos

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon