Veelkleurige Afghan Kombersie

Gratis Patroon - hekel

 

Gratis patroon 

Hierdie is ‘n maklike Afghan blok babakombers.

Dit is belangrik dat jy net die patroon verstaan en volg maar daar is geen vreemde steke nie. 

Ek het dit met Chick baba wol gemaak (4 kleure van 2 bolle van elke kleur). Ek het een bolletjie sover as moontlik opgehekel en dan die volgende bolletjie gelas ensovoorts sodat dit veelkleurige rye is. Jy kan enige kleur of kleure gebruik solank jy die kleure heg aan die begin van 'n nuwe ry en net die patroon bly volg.



Omdat die patroon so interessant is kan dit net so mooi met 1 kleur lyk.

Ek het nie spanning geneem nie want jy kan enige wol en die toepaslike naaldgrootte gebruik om hierdie kombersie te hekel. En jy kan dit so groot maak soos wat jy wil.

My voltooide produk was ± 115 cm.

 Hekelpenne:

Vir die kombersie 3.5mm en vir die rand 4mm om dit bietjie losser te laat vertoon.

Afkortings:

Gs        =        glipsteek
Ks        =        kettingsteek
Lb        =        langbeen
Kb        =        kortbeen
V-st      =        V-steek (2lb, 1ks, 2 lb)
Trossie  =       3 langbene

 Metode:

Ry 1:      

Maak 6 ks. Gs in die 1e ks. Dit vorm ‘n ring.
Maak nou 3 ks.  (hierdie tel as jou 1e lb)
Maak nou 2 lb in die ring.
Maak 2 ks en maak dan 3 lb in die ring. Herhaal dit 2 maal. Maak 2 ks.
(Jy moet nou ‘n totaal van 4 trossies met 3 lb elk hê met 2 ks tussen elke                trossie.)

 Ry 2:      

Heg met gs en gs tot by die 2 ks-spasie.In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou 1e hoek.
In die volgende ks-spasie, maak 3 lb. Maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm die    volgende hoek. 
Herhaal in die volgende 2 ks-spasies om jou 4 hoeke te vorm.

(Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke).


Ry 3:      

Heg met gs aan 3e ks en gs tot in die 1e hoek.
Maak 1 kb, maak 3 ks, maak 1 kb in dieselfde spasie.
*Maak 3 ks. In die spasie tussen die trossies, maak ‘n kb. Maak weer 3 ks.
Maak ‘n kb in die hoek, maak 3 ks, maak 1 kb in dieselfde spasie.
Herhaal van * vir die volgende 2 kante. Heg met gs aan die 1e kb.

Nota:     Ry 3 lyk baie los maar dit gee juis die gaatjie effek wat jy verlang.

 

Ry 4:      

In die ks spasie in die hoek: Maak 4ks (dit tel as 1 lb en 1 ks), maak nog 1lb, maak 3ks, maak nog 1 lb, 1 ks, 1 lb in dieselfde spasie.

In die volgende 3ks spasie: Maak 1 lb, 1ks, 1 lb. (hierdie vorm jou V-                        steek)

*Maak nou 3 ks.

In die volgende 3ks spasie, maak 1 V-st.

In die hoek: Maak 1 V-st, 3 ks, 1 V-st.*

Herhaal hierdie patroon reg rondom.


 

Let wel: Daar is tussen die V-steke in die hoeke en die V-steek in die 1 spasie langs die hoek geen ks  nie. Dit effek is soos ‘n breër hoek.

 

Ry 5:     

Gs tot in die hoek. In die 3ks spasie tussen die V-steke: Maak 3ks (tel as 1e lb.)

Maak nog 2 lb. 

Maak 3 ks. Maak nog ‘n trossie van 3 lb in dieselfde hoekspasie.

*Maak 3 lb tussen die hoek se V-steek en die 1e V-steek.

Maak  lb trossie in die 3 ks spasie.

Maak lb  trossie tussen die hoek se V-steek en die V-steek langs die hoek.

Maak lb trossie, 3ks en lb trossie in die volgende hoek.

Herhaal hierdie patroon reg rondom.

Nota: Daar is in ry 5 geen ks tussen die trossies nie, behalwe in die hoeke.

Ry 3 tot 5 vorm die patroon.

Jy sal net die hoeveelheid ks groepies (ry 3), V-st groepies (ry 4), of trossies (ry 5) in elke ry vermeerder soos wat die kombersie groter word.

Herhaal tot so groot jy jou kombersie wil hê.

Eindig met ry 5.

 

Randjie:

Vir die randjie word dieselfde metode as in Ry 3 gebruik behalwe dat daar 4 ks gemaak word en nie 3 nie.

Jy kan dieselfde naald gebruik. Ek het 0,5mm groter gebruik om dit effe losser te laat vertoon.

Jy kan 1 kleur of elke rytjie ‘n ander kleur maak.

Heg die rye met kb in die vorige ry se ks spasie om effek te kry. Herhaal soveel keer as wat jy wil (ek het 5 rye gehekel).



Laat gerus kommentaar as iets onduidelik is. Geniet!

(c)AdeVos

 


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon