Pragtig in Pienk (Poncho met mou, poniestert mus en dasserp)

Gratis patroon vir dogtertjie van ongeveer 6-8 jaar oud

Hierdie patroon is pas vir meer as een seisoen want sus groei in dit in.



Benodig:

3 x 100g dubbelbrei wol in hoofkleur  (ek het Pulskein se Charity - Tiger Cerise gebruik).

1 x 100g dubbelbrei wol in kontraskleur (ek het Pulskein se Charity – be my Valentine gebruik).

5mm hekelpen (as jy baie los hekel gebruik ‘n kleiner naald).

2 merkers

Wolnaald om drade weg te werk

2 krale

Skêr

Afkortings:

Ks         =          kettingsteek

Kb        =          kortbeen

Lb        =          langbeen

Hlb       =          halwe langbeen

Gs        =          glipsteek

 

Enkel V-steek:

2 lb in dieselfde spasie, 1 ks 

Dubbel V-steek:

2lb, 1ks, 2lb in dieselfde spasie

 

Metode vir Poncho:

Maak 97 ks. Heg om ring te vorm.

(Tip: om seker te maak dat die stert nie draai nie, maak so ±10 ks en plaas die 1e st op jou hekelnaald. Soos die stert langer word bly die steke in plek en dit heg makliker).

 

Ry 1:    Maak 1ks, kb in dieselfde steek. Kb in elke st in die ring in die rondte (97st).

Ry 2:    Maak 1 ks, kb in elke st in die rondte (97st).

Ry 3:    Maak 3 ks (dit tel as 1e lb). Maak lb in elke st reg rondom (97st).

(Tip: maak 1kb en 1ks ipv die 3 ks, dit vervang dan die 1e lb en help dat daar nie gate tussen die 1e st vorm nie).

Ry 4:    Maak 3 ks, lb, 1ks, 2 lb in dieselfde st, ks1, ** skip 1 st, 2lb, 1ks in die volgende st. Skip 1 st, 2lb, 1ks in die volgende st** herhaal die enkel V-steek 22 keer. Herhaal hierdie ry deur weer ‘n vol V-steek en daarna 22 enkel V-steke.  Heg en gs na die middel van die vol trossie.  (44 V-steke en 2 dubbel V-steke). Hierdie ry vorm die patroon).

Ry 5 tot 18:      Herhaal die patroon; die hoeveelheid V-steke vermeerder soos wat jy vorder.

 

Mousgat:

Tel vanaf die dubbel V-steek, 12 enkel spasies af. Plaas ‘n merker in die 12e spasie. Tel 16 spasies af. Heg die merker aan die volgende st (mousgat). Doen dieselfde aan die ander kant om die ander mousgat te merk.

Ry 19:  Gs na die middel van die dubbel V-steek. Maak ‘n dubbel V-steek in die spasie. Maak nou 12 enkel V-steke in die ry. Skip 16 V-steke (waar die merker is om die mousgat te vorm) en heg met gs in die volgende spasie (dit voel asof jy jou werk draai). Voltooi die V-steek in dieselfde spasie en maak dan verdere 11 V-steke, maak ‘n dubbel V-steek. Herhaal deur weer 12 enkel  V-steke te maak, skip 16 V-steke en heg met gs, voltooi die v-steek in dieselfde spasie en maak dan verdere 11 V-steke. Heg.

Ry 20 - 30: Onthou om in ry 20 se mousgat spasie ‘n V-steek te maak.

Ry 21 – 30: Herhaal die patroon. Heg af.

 

Afronding:

Mousgat:

Met kontraskleur, heg wol aan mousgat en maak ‘n kb in elke V-steek reg rondom en 2 kb in die spasie tussen elke V-st. Heg af. Herhaal by ander mousgat.

Poncho:           Met kontraskleur heg aan en maak ‘n kb in elke st reg rondom die onderkant van die poncho.

Maak nou ‘n verdere ry deur 1 lb te maak,  skip ‘n kb, maak ‘n ks en maak weer ‘n lb. Herhaal hierdie patroon reg rondom. Heg af.

 

RAFELS aan die onderkant:

Sny 2 sterte kontraskleur en 1 stert hoofkleur van so ongeveer 20cm lank elk. (Jy kan meer sny as jy die rafels digter wil hê). Vou die sterte dubbel om lust te vorm en trek van vooraf deur elke 2e spasie na agter om rafels te heg.

 

Nek:

Maak stert van ongeveer 110 ks in kontraskleur.

Ryg deur die lb spasies aan die bokant van die poncho.

Heg ‘n kraal aan elke kant van die stert.

 

Blomme:

Maak 1 vir die mus, 1 vir die serp en 2 vir die poncho in kontraskleur.

 

Metode:

Ry 1:    Maak 4ks.  Heg met gs in die 1e ks om ring te vorm.

Ry 2:    Maak 3ks en 5 lb in die ring. (6st). Heg

Ry 3:    Maak *1 lb, 3ks, 1lb* herhaal sodat jy 6lb en 6ks spasies het. Heg.

Ry 4:    Maak 1kb, 1hlb, 1lb, 1hlb, 1kb in elke spasie. (5 steke om die skulpie te vorm).

Hierdie vorm jou basiese blom met 6 skulpies.

Indien jy die blom groter wil maak:

Ry 5:    Draai die blom om. *Maak 1kb in die st tussen die skulpies van die vorige ry. Maak 5ks.*

Ry 6:    *Maak 1 kb. Maak 3lb in die ks spasies van die vorige ry. Maak 1 kb* Herhaal om weer 6 skulpies te maak.

Heg af en laat ‘n lang wolstert om die blom mee vas te werk.

 

Poniestert Mussie:

Hier benodig jy ‘n haarrekkie (nie te groot nie).

Maak 50 kb om die haarrekkie.

Ry 1:    Maak ‘n kb in elke steek.

Ry 2:    Maak 2ks. *Maak kb in 1e st, 2kb in volgende  st* Herhaal reg rondom.

Ry 3: Maak 2ks. Maak lb in dieselfde st. *Maak lb in volgende 3 st. Maak 2 lb in volgende steek.* rondom.  Heg.

Ry 4:    Maak 2ks. Maak 2 lb in dieselfde st. *Skip 3 st. Maak 3 lb in volgende st.* Herhaal rondom om trossie patroon te kry. Heg.

Ry 5:    Maak 2ks en 2lb in dieselfde spasie. Maak nou ‘n trossie van 3 lb in elke spasie tussen die vorige ry se trossies. Herhaal reg rondom.

Ry 6-13:           Herhaal hierdie patroon vir die 7e rye.

RY 14: Heg kontraskleur en herhaal die patroon.

Ry 15: Maak 1lb, 1kb, 1 lb in elke spasie tussen die trossies en ‘n kb in elke st van die vorige ry se trossie om die kartelrandjie te vorm. Heg af.

Werk ‘n blom aan.


Serp:

Maak 18 kettingsteke. (Laat 'n wolstert in die begin om  mee toe te werk).

Ry 1:    Draai en werk in 3e steek van die naald om die 1e lb te vorm.Voltooi die ry deur in elke ks 'n lb te maak. Draai.

Ry 2:    Maak 3 kettingsteke om die 1e langbeen te vorm. Voltooi die ry deur 'n langbeen in elke vorige ry se langbeen te werk.

(Tip: maak 1kb en 1ks ipv die 3 ks, dit vervang dan die 1e lb en help dat daar nie gate tussen die 1e st vorm nie).

Ry 3:    Maak 3 kettingsteke om die 1e langbeen te vorm. Maak nog 2 lb in dieselfde spasie. Skip 2 st. Maak 3 lb in die volgende st. Herhaal tot aan die einde van die ry om patroon te vorm.

Ry 4: Maak 3 kettingsteke om die 1e langbeen te vorm. Maak nog 2 lb in dieselfde spasie. Maak ‘n trossie van 3 lb in elke spasie tussen die trossies van die vorige ry. Draai en gaan so voort totdat die werk ongeveer 85cm lank is.  Heg af. 

 

Rafels:
Sny woldraadjies van ongeveer 20 cm. 

Heg dit aan die kant waar geeindig is deur elke draadjie dubbel te vou en met 'n lus deur die laaste ry steke te trek. Heg so 3 draadjies in elke steekspasie.

Aan die beginpunt van die serp, neem die wolstert en werk die twee kante van die serp aanmekaar.
Steek nou die ander punt met die fraiings hierdeur om 'n 'das' te vorm.

 




Kontak my gerus indien u ‘n fout vind of ‘n vraag het. Plaas gerus ‘n foto van u voltooide produk.

Lekker hekel!


© Mei 2021 - Ansie de Vos

 

 






















 

 

 

 

 

 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon