‘n Hondejassie van Ouma Blokkies

 

Gratis patroon







Ek het sommer ouma blokkies begin hekel om van my oorskietwol ontslae te raak, maar toe die winter so vinnig toeslaan het dit gou ‘n ander doel gekry.

Hierdie jassie is in ‘n groot mate ‘n meet-en-pas projek. Maak die jassie vir jou hondekind so groot as wat nodig is.

My hondekind is ‘n mongrel en ongeveer so groot soos ‘n Spaniel.

Nota: Vir kleiner hond, maak kleiner of minder blokkies.

Vir groter hond, maak groter of meer blokkies.

Benodighede:

Dubbeldraad breiwol (oorskietstukkies)

5mm hekelnaald

Wolnaald om flenters weg te werk. (My flenters is meesal sommer ingehekel).

Hoe om blokkie te brei:

Ek het die gewone blokkie effens verander om dit bietjie interessant te maak, maar dit staan jou vry om die gewone ouma-blokkie te maak. Sien gerus my blog: Die basiese Ouma-blokkie.

AFKORTINGS:

Gs        =          glipsteek

Ks        =          kettingsteek

Lb        =          langbeen

 

HOE OM TE BEGIN:

1. Begin deur ‘n glipsteek op jou naald te maak. Maak 6 ks.

2. Gs in die 1e ks. Dit vorm ‘n ring.

3.  Maak nou 3 ks.  (hierdie tel as jou 1e lb)

4. Maak nou 1 lb in die ring.

5.  Maak 2 ks en maak dan 2 lb in die ring. Herhaal dit 2 maal. (Jy moet nou ‘n totaal van 4 trossies met    2 lb elk hê met 2 ks tussen elke trossie. Hierdie vorm ry 1.

6. Heg en gs tot by die 2 ks-spasie.

7. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb. Hierdie vorm jou 1e hoek.

8. In die volgende ks-spasie, maak 3 lb. Maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm die volgende hoek. Herhaal in die volgende 2 ks-spasies om jou 4 hoeke te vorm. (Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke). Moenie bekommer as dit lyk of jou werk wil krul nie, dit sal herstel soos jy vorder. Jy sal dus nou in elke oop spasie van die vorige ry 2 x 3-beentjie trossies hê).

9. Heg aan volgende lb met gs. Gs tot in die volgende hoek.

10.In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 1 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 2 lb.

11. Maak 2 lb in die volgende oop spasie.

12. In die volgende hoek, maak 2 lb, maak 2 ks en weer 2 lb. Dit vorm dan die hoek. (Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke).

13. Herhaal stap 12 om die hoeke en ry te vorm. Gs om te heg en gs tot in volgende hoek.

Hierdie ry het dus net trossies van 2 bene elk.

14. Herhaal ry 13, maar maak weer 3 langbene ipv 2 beentjies om trossies te vorm.

 

        DWS 

        RY  1  se trossies het 2 lb elk.

        RY 2 se trossies het 3 lb elk.

        RY 3 se trossies het 2 lb elk.

        RY 4 se trossies het 3 lb elk.

 

    Maak nou die blokkies soos volg:

    Vir die nek: 4

    Vir die rug: 6

    Vir die lyf: 6

    Vir die magie: 2

    Totaal: 18 blokkies

 

      Werk aanmekaar soos volg:

1. Werk die nek se 4 blokkies  langs mekaar aanmekaar vas om nekband te vorm. Gebruik enige metode wat jy verkies. (Ek het my blokkies sommer met kortbeentjies aanmekaar gewerk).


2. Werk nou die ruggie se 6 blokkies aan 2 van die nekband se blokkies vas.

3. Draai die jasssie om en werk die lyfie se blokkies aan weerskante (3 elke kant) maar laat ‘n spasie vir die pootjies (so halwe blokkie). Die lyfie se blokkies sal dan ‘n halwe blokkie langer wees as die ruggie.


4. Werk nou die magie se 2 blokkies vas.

5.  Omdat ek met kortbeentjies vasgehekel het, het ek die kante van die jassie ook omgehekel om dit mooi af te rond.

 (My jassie verskil so effens want ek het 1 blokkie te min vir die magie gehekel en toe sommer net ‘n paar rye trossies gehekel ipv die blokkie.

 

Probeer gerus hierdie patroon en kontak my indien jy enige foute kry of in PDF formaat gratis wil hê.

© AdeVos 7/2021

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon