Hekel 'n oortrektrui in enige grootte

Gratis patroon vir enige grootte.


Vlak: Intermediër  - Vir 'n meer bedrewe hekelhennetjie wat al gemaklik is om met naald, wol en steke te eksperimenteer.

Hierdie patroon kan aangepas word vir enige grootte trui. Dit is 'n "hoe om te maak patroon" sonder spesifieke ry of steek aanwysings. 

Jy benodig wel 'n top of trui wat gemaklik pas waarteen jy jou trui gaan meet.

Gebruik naaldgrootte en patroonsteek van u keuse. Ek het slegs kort- en langbene gebruik.

Ek het dubbeldraadwol en 5mm naald gebruik.

(Die bont wol is seker nie ideaal vir die patroon nie, maar sus is mal oor die verskillende strepe en blokpatrone.)


AFKORTINGS:

Gs        =          glipsteek

Ks        =          kettingsteek

Lb        =          langbeen

Kb        =          kortbeen

Vermindering is deur 2 steke tesame te hekel.

Metode:

Die voorpant en agterkant word dieselfde gehekel.

RIB

Ry 1:        Maak 10 kettingsteke.

Ry 2:        Maak 'n kb in die 2e ks van die naald. Maak nou 'n kb in elke kettingsteek tot aan die einde van die                     ry. Maak 2 ks en draai.

Ry 3:       Maak 'n kb in die voorste lus van elke kb van die vorige ry. Maak 2 ks en draai.

Ry 4:       Maak 'n kb in die agterste lus van elke kb van die vorige ry. Maak 2 ks en draai.

Rib rye:   Die rib word gehekel deur 1 ry kb in die voorste lus van die vorige ry se steek te maak en die                                 volgende ry in die agterste lus van elke kb van die vorige ry  te maak.

Hekel die rib so lank as wat nodig is om die breedte van die voorkant (of agterkant) van die trui te vorm. Meet dit teen die top en onthou as die top baie rekkerig of gebrei is om bietjie meer kettingsteke te maak sodat jou  trui groot genoeg gaan wees.

Wanneer die rib lank genoeg is, heg af.

VOOR en AGTER

Ry 1:            Maak 'n kb in elke steek aan die lang kant van jou rib. Maak 3 ks. Draai.

Ry 2:           Maak 'n lb in elke kb tot aan einde van ry. Maak 3 ks. Draai.

Ry 3 en ...:   Maak volgende rye met lb soos ry 2. 

Meet die trui teen die top tot die pant lank genoeg is tot teen die bokant van top (skouer). Heg af. (Die pant sal dus soos 'n reghoek lyk.)

Herhaal om 2 pante te maak.

MOUE

Maak 2 moue

Meet die top se mousgat rondom om te bepaal hoe breed jou mou se bokant moet wees om gemaklik te pas.

Maak soveel ks as nodig vir die bokant van die mou. Maak 3 ks ekstra wat tel as 1e steek.

Ry 1:        Maak 'n lb in die 3e st van die naald. Maak dan 'n lb in elke ks tot aan einde van                                                     ry. Maak 3 ks. Draai.

Ry 2:        Maak 'n lb in elke ks tot aan einde van ry. Maak 3 ks. Draai.

Ry 3 en ...:    Herhaal ry 2 totdat ry ongeveer 5cm van die pols af is. Daar moet genoeg plek                                                          gelaat word vir vermindering en rib.

Verminder die steke vir die pols:

Vermindering gaan afhang van hoe wyd die mou is en hoe nou jy die rib wil maak.

Byvoorbeeld: Verminder deur 2 lb te maak en dan 2lb saam te maak. Die volgende ry kan dalk 1 lb en dan 2 lb saam oor die hele ry gemaak word. Verminder tot mou vir die pols die regte wydte het.

RIB

Hekel nou 'n kb in elke lb. Meet die mou teen die top en herhaal kb vir 'n paar rye tot die mou die regte lengte het. 

VOLTOOI:

  1. Pas voor en agterkant teen mekaar en werk die skouernate vas. Meet die nekopening van die top. Laat 'n opening vir die nek groot genoeg vir kop om deur te gaan. 
  2. Pas die mou in die mousgat en werk van die skouer af vas.
  3. Herhaal met ander mou.
  4. Werk nou die synate van pante en moue toe.
  5. Werk rafels weg.
Bootnek:
Werk slegs 'n ry kortbene om die nekopening om af te rond.

Kraag:
  1. Hekel  'n ry kortbene om die nekopening. 
  2. Maak kraag deur 'n paar rye langbene te hekel. Ek het 4 rye gehekel. 
  3. Rond kraag af deur met 'n ry kortbene om te hekel.
  4. Vou kraag om.
Rolkraag:

  1. Hekel  'n ry kortbene om die nekopening. 
  2. Maak rolkraag deur 'n rye langbene te hekel. Hekel genoeg rye om rolkraag te vorm.
  3. Rond af deur met kortbene om te hekel.

Opsioneel: Warmhandjie sak

  1. Bepaal waar jy die sak op jou trui wil werk en hoe groot dit moet wees. (Meet jou hand in die spasie in.)
  2. Maak 'n ry ks, genoeg vir die lengte van die sak. Maak 3 ks ekstra vir 1e lb.
  3. Werk ry 1 deur lb in elke ks te maak.Maak r ks, draai.
  4. Maak genoeg rye lb om die breedte van die sak te maak.
  5. Rond af deur 'n ry kb regrondom die sak te werk.
  6. Plaas die sak in posisie en steek stewig vas.
  7. Werk die b en onderkant van die sak bo-op die trui vas.
  8. Laat die kant oop vir hand om in te steek.


Kontak my gerus indien u ‘n fout vind of ‘n vraag het. Plaas gerus ‘n foto van u voltooide produk.

Lekker hekel!

Teken gerus gratis in met u e-pos adres om kennis te kry van enige nuwe plasings.

© Nov 2021 - Ansie de Vos



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon