Olifant troosbersie


OLIFANT TROOSBERSIE
Hier volg my patroon:
Kombersie: 
My grootte = 45cm x 45 cm. Jy kan hom so groot maak as wat jy wil. Die norm is egter ongeveer 36cm x 43cm vir 'n troosbersie)

Hierdie kombersie is basies net 'n groot heksagoon  blokkie. (Google: Hexagon granny square). Die gevolg is dat die kombersie effens plooi.

Benodig:
Ek het dubbelbrei (Lollipop dubble knit) wol in 3 kleure gebruik.
Naaldgrootte: 5mm
'n Merker om die rye te kan tel (ek gebruik sommer 'n paperclip).

Jy kan enige wol gebruik en enige naaldgrootte gebruik. Naaldgrootte sal 'n effek op die grootte van die kombersie hê.
Ek het na elke 2e ry van kleur verander. Jy kan self besluit of jy kleur wil verander en na hoeveel rye.

Afkortings:
Ks      =       kettingsteek
kb     =       kortbeen
lb      =       langbeen
Hlb      =          halwe langbeen
gs      =        glipsteek
R        =        rondte/ry

Instruksies:
Met kleur A  maak 7 ks. Heg met gs aan die 1e ks om ring te vorm.
R 1: in die ring, ks3, 2lb, ks2, *3 lb, 2ks,* herhaal van * tot * nog 5  keer. Heg met gs aan die boonste ketting van die begin 3ks.
R 2: gs in die volgende 2 lb. In die volgende 2ks spasie: 3ks, 2lb, 2ks, 3lb. 
(hier is waar jy elke keer na die volgende rondte oorgaan en so ook vermeerder.). Hekel  nou *3lb, 2ks, 3lb* in elke oop spasie tussen die trossies van die vorige rondte.
R3 en elke ry daarna: Heg met gs aan die boonste ketting van die begin 3ks. gs in die volgende 2 lb. In die volgende 2ks spasie: 3ks, 2lb, 2ks, 3lb, *3lb, 2ks, 3lb* in elke oop spasie tussen die trossies van die vorige rondte.
Hierdie vorm die basiese patroon. Soos wat jy hekel sal die trossies vermeerder en die kombersie groter word.

Besluit hoe groot jy die kombersie wil maak en heg af deur die wol af te sny en deur die laaste lus te trek.

As jy sukkel Google gerus: Free crochet pattern: Hexagon Granny square.
Jy behoort patrone te kus en te keur te kry.

Randjie:
Die randjie is met die hoofkleur gemaak.
Heg aan met gs. Kb in elke trossie tussen elke lb.
In die spasie tussen elke trossie: 1kb, 1lb, 1kb.
Herhaal totdat randjie reg rondom is.
Heg af. Werk alle los drade weg.

Die Olifantjie:

Benodig:
Basiese kleur vir olifant (grys).
Kontrasterende kleur vir ore, indien verkies.
Swart en wit wol of gare om ogies te maak. 
Stopmateriaal om die olifant te stop (batting).
Hekelnaald (Ek het met 'n groter naald gehekel om 'n effe groter olifantjie te maak).

Nota:
Die hele olifantjie word met kortbeentjies (kb) gehekel. 
Om verwarring met die aanhoudende herhaling van kb te vermy praat ek van steke. Wanneer ek dus van steke praat bedoel ek kortbene (kb). 

Belangrik!!
!! Onthou dat babas alles in hulle mond druk. Die gehekelde olifant ook!
Vermy dus stopmateriaal wat kan uitrafel deur die hekelgate of draai stopmateriaal in dun materiaal (soos sykous of voile toe) en stop dan die olifant daarmee.

Hekel die ogies stewig vas en vermy gekoopte ogies of knopies wat kan loskom of afbreek en in baba se keel kan beland!

Instruksies:
Plaas die merker aan die begin van elke ry en skuif merker op soos wat die ry voltooi word.

Afkortings:
kb2tes = hekel 2 kb tesame

Hoe om Kb2tes te doen:
Steek naald in die kortbeen. Wol oor naald en trek 'n lus. Herhaal in volgende kortbeen. Wol oor naald en trek dan naald deur al 3 die lusse op die naald.

Die olifant se kop:

Instruksies:
Begin deur 2ks te maak.
R1: Werk 6 kb in die 2e ks van die naald, moenie heg nie (6kb)
R2: Werk 2 kb in elke steek in die rondte (12kb)
R3: (Kb in 1e steek, 2kb in volgende steek) x  6 keer (18kb)
R4: (Kb in volgende 2 steke, 2kb in volgende steek) x 6 keer (24kb)
R5: (Kb in volgende 3 steke, 2kb in volgende steek) x 6 keer (30kb)
R6: Werk kb in elke steek reg rondom (30kb)
R7: (Kb in volgende 4 steke, 2kb in volgende steek) x 6 keer (36kb)
R8 - 14: Kb in elke steek reg rondom
R15: (Kb in volgende 4kb, kb2tes) x 6 keer (30kb)
R16: (Kb in volgende 3kb, kb2tes) x 6 keer (24kb)
Ry 17: werk in die agterste lus van die steke: *kb in volgende 2 steke, kb2tes, herhaal van * rondom (18 kb)
Ry18: (Kb in volgende steek, kb2tes) x 6 keer (12 kb)
Stop kop effe op.
R19: (Kb2tes) x 6 keer. heg met gs in die 1e steek. (6kb)
Heg af. Laat genoeg wol om mee toe te werk. Weef die wol deur die laaste rondte en trek steke toe. Moenie die wol afknip nie.

Olifant se Trompet:
Nota:  Stop die trompet liggies vanaf ry 6 soos jy vorder.

Instruksies:
Begin by die punt van die trompet. Ks2.
R1: Werk 6kb in die 2eks van die naald. Moenie heg nie. (6kb)
R2: Werk in die agterste lus van die steke, kb reg rondom.
R3-6: Kb in elke steek reg rondom.
R7: Werk 2kb in die volgende steek, kb in die volgende 5 steke (7kb).
R8-9: Kb in elke steek reg rondom.
R10:Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 6 steke (8kb)
R11: Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 7 steke (9kb)
R12: Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 8 steke (10kb)
R13: Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 9 steke (11kb)
R14:Kb in volgende steek, 2kb in volgende 4 steke, (kb2tes) x 3 keer (12kb)
R15: Kb in volgende 2 steke, 2 kb in volgende steek, kb in volgende steek, 2kb in volgende steek, kb in volgende 7 steke. Heg met gs in 1e steek. (14kb)
Heg af. Laat wolstert vir toewerk.
Stop liggies op.


Ore: 
Nota:  Maak 2 elk van 2 kleure = 4. (ek het 2 van die ore met ‘n effe groter naald en ‘n ander kleur gemaak sodat die agterste oorflap effe groter vertoon.

Instruksies:
Maak 6 ks.
R1: Kb in 2e ks van die naald af en in elke ks. (5kb)
R2: Ks1, 2kb in elke steek, draai (10kb)
R3: Ks1, kb in elke steek. Draai.
R4: Ks1, kb in eerste 4 steke, 2 kb in volgende 2 steke, kb in laaste 4 steke. Draai. (12kb)
R5: Ks1, kb in elke steek. Draai.
R6: Ks1, kb in eerste steek, kb2tes, kb in volgende 6 steke, kb2tes, kb in laaste steek (10kb).
Heg af.

Afronding:
Werk die trompet aan die olifantkop deur oorhands die laaste rondte steke vas te werk.
Vou die trompet liggies soos jy wil hê hy moet staan.

Meet min of meer waar jy die ore en die oë wil hê. Rug die aparte ore aanmekaar en werk elke oor aan deur die naald deur beide ore te steek en dan deur die kop.


Ogies: (maak 2)
Nota:  Met swart wol en 3,5mm naald:

Instruksies:
Maak 2ks.
R1: Werk 6kb in 2e ks vanaf naald.
R2: Ks 2, kb 1 in 1e steek. Werk nou 2 kb in elke steek rondom. Heg met gs in 1e kb.
R3: Ks 2, kb 1 in 1e steek. Werk 2kb in volgende 4 steke (8kb). Heg af.
Die oë sal dus so effe ovaal vertoon.
Voltooi die ogie met wit wol. (ek het sommer so 4 stekies oorhands met my stopnaald gewerk).
Werk ogies vas.

Indien jy ronder oë verkies, voltooi rondte 3 deur 2kb in elke steek te maak. 
Indien jy groter oë verkies kan jy nog 'n rondte kb hekel, voor die laaste ry.


kleuterkombers, troosbersie en 'n olifant om mee te speel


Was die troosbersie met die hand. Plaas plat neer en laat droog word.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon