Dasserp en mus vir die skool

Die winter is alweer op ons en die kinderhuis is weer in die nood.

Ek het hierdie keer dasserpe en musse vir die dogtertjies gehekel. Die dasserpe hekel vinniger omdat dit net 'n 'halwe' serp is.  Dit dra ook gemakliker omdat dit nie so groot bondel om die nek maak nie en maklik onder die sweetpaktop of trui ingesteek kan word sonder om te dik te staan.

Om die Dasserp te hekel:

Hierdie patroon is vir laerskoolkinders, Vir groter kinders kan meer steke en rye bygevoeg word.
Nr 6 hekelnaald 
Dubbelbrei wol in die kleur van die skool
Skêr en naald om toe te werk

Maak 18 kettingsteke. (Laat 'n wolstert in die begin om  mee toe te werk).
Draai en werk in 3e steek van die naald om die 1e langbeen te vorm.
Voltooi die ry deur in elke kettingsteek 'n langbeentjie te maak.
Draai. Maak 3 kettingsteke om die 1e langbeen te vorm. 
Voltooi die ry deur 'n langbeen in elke vorige ry se langbeen te werk.
Draai en gaan so voort totdat die werk ongeveer 85cm lank is. (Korter vir kleiner kinders en langer vir groter kinders.)

Heg af. 

Sny woldraadjies van ongeveer 20 cm. 
Heg dit aan die kant waar geeindig is deur elke draadjie dubbel te vou en met 'n lus deur die laaste ry steke te trek. Heg so 2 draadjies in elke steekspasie.

Aan die beginpunt van die serp, neem die wolstert en werk die twee kante van die serp aanmekaar.
Steek nou die ander punt met die fraiings hierdeur om 'n 'das' te vorm.

Die patroon kan verander word deur rye kortbene of rye driedubbelbene tussen in te werk.


























Mus:

Ek het die mus sommer uit my kop gehekel maar hier is 'n link na 'n maklike patroon wat in verskillende grotes beskikbaar is.

Kyk gerus na my plasing van 'n mus vir die koue vir 'n gratis patroon of besoek ook hierdie skakel om musse in verskillende grotes te kry.

https://oombawkadesigncrochet.com/2014/10/basic-dc-beanie-worsted-weight6-00-mm.html

Indien jy probleme met die serp patroon het of die mus patroon graag in Afrikaans wil hê, kontak my gerus.








Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon