Maklike Slippers vir sommer so - gratis patroon






Vir die laaste paar jaar ondersteun ons kerk die kinderhuis in Reddersburg met brei en hekel projekte. Ek het al soveel musse, serpe en bedsokkies gehekel.
Ek gee graag vir julle hier 'n basiese slipper patroon wat julle kan aanpas. Ek gee ook voorstelle van hoe om dit groter of kleiner te maak.

Hierdie patroon werk vinnig en is baie veelsydig. Ek gee ook 'n skakel na skoengrotes sodat jy kan weet hoe lank om jou slipper te maak.



NOTAS:

  • Onthou net dat wol rek, so maak die slipper maar so 1 - 2 cm korter as wat die skoengrote is sodat dit lekker styf kan  sit. 
  • Persoonlik verkies ek om die boonste rand meer rye te maak sodat dit eerder soos 'n sokkie pas en nie so maklik kan afgly nie.
  • Probeer om dieselfde dikte wol te gebruik as jy meer as een kleur in jou sokkie gebruik.
  • Vir 'n groter sokkie kan groter naalde en dikker wol gebruik word.
  • Vir 'n kleiner sokkie kan dunner wol en kleiner naalde gebruik word.
  • Vir 'n groter voet moet meer rye in die voetgedeelte gehekel word (sien patroon).
  • Vir 'n kleiner voet moet minder rye in die voetgedeelte gehekel word (sien patroon).
  • Vir 'n breër voet kan nog steke vermeerder word in ry 4 (sien patroon).
  • Vir 'n smaller voet kan minder steke vermeerder word
Afkortings:

st = steke
ks = kettingsteek
gs = glipsteek
kb = kortbeen
lb = langbeen

Patroon:

Hierdie patroon is vir 'n ongeveer no 5 skoen of medium grootte voet.
Ek gebruik 'Double knit' wol en 5 mm naald.

Ry 1: Maak 4 ks. (Hierdie tel as 1 lb). Gs in eerste ks en maak nog 9 lb in die steek. Heg aan 1st met gs vas. (10st)

Ry 2: Maak 3 ks (tel as lb). Maak nog lb in dieselfde st. Maak 2 lb in elke steek reg rondom. Heg aan 1st met gs vas. (20st)

Ry 3: Maak 3 ks (tel as lb). Maak nog 2 lb in dieselfde st. Maak3 lb dan 2lb in volgende steek*, herhaal reg rondom. Heg aan 1st met gs vas. (25st)

INDIEN U DIE SLIPPER BREëR WIL MAAK DOEN RY 4 AS VOLG:
Ry 4 : Maak 3 ks (tel as lb). Maak nog 2 lb in dieselfde st. Maak 2 lb in volgende 2 st dan 3 lb in volgende steek*, herhaal reg rondom. Heg aan 1st met gs vas. (30st). Begin dan ry 5 soos wat die patroon verder sê.

Ry 4 -11: Maak 3 ks (tel as lb). Maak lb in elke steek reg rondom. Heg met gs.

Ry 12: Maak 3 ks (tel as lb). Maak 18 lb in elke steek (18st).

Ry 13 - 21: Draai. Maak 3 ks (tel as lb). Werk op hierdie 18 st vir die volgende rye.

INDIEN U DIE SLIPPER LANGER WIL MAAK HEKEL MEER RYE TOTDAT DIE SLIPPER DIE REGTE LENGTE IS. (Sien tabel).

Ry 22: Draai. Maak 3 ks (tel as lb). Maak 7 lb. (Verminder: Hekel die volgende 2 lb saam. Herhaal nog  1 keer.) Maak nog 7 lb. (16 st.) Heg af.

Dop die slipper binnekant na buite. Werk die agterste naat toe. (Ek hekel dit sommer vas met kb).
Dop slipper weer na buite.

Heg wol met gs aan die agterkantste naat. Werk kb reg eweredig reg rondom. Heg met gs.

Werk die volgende rye met kb in die agterste lus van die vorige ry kb.

Herhaal hierdie ry nog 2 keer of soveel keer as jy wil  totdat die rib breed genoeg is.


Hoe om riffelrand te maak:
Maak die rib van die slipper soos bo.
Maak riffelry soos volg: kb1, maak 5 ks, kb1 in volgende steek, maak 5 ks.
Herhaal hierdie reg rondom die rand.
Heg af.

Werk los rafels weg.

Hier is die skoengrotes vir dames en mans.

shoes measurement chart for printable adult (men and woman) shoes sizing chart f...,  #adult #chart #measurement #Men #printable #shoes #sizing #Woman
https://womensshoes.ga

Laat weet as hierdie patroon onduidelik is of iewers 'n fout op het.

Teken gerus in om kennis van verdere patrone te kry.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon