Gekartelde randjie vir 'n trooskombersie

Gratis patroon - hekel








Sien ook my C2C kotkombers se patroon op my plasings.

Ek het hierdie C2C met Kismet Yarns se Cascade gehekel met 'n 4mm naald. 


Die C2C patroon is algemeen op die internet te kry. Ek kon nie op 'n  randjie besluit nie en het op die ou end my eie ontwerp. Ek plaas die patroon hieronder. Die patroon het perfek uitgewerk en het ook 'n netjiese hoek afgerond. Ek het 'n gewone roomkleur vir die rand gebruik.


Hierdie kombersie is ongeveer 35cm x 35cm groot sodat baba dit maklik kan vashou. Jy kan dit so groot maak as wat jy verkies.

Jy kan ook enige ander patroon vir die kombersie soos 'n gewone ouma blok patroon gebruik. (Sien die patroon op my plasings.)



Aanwysings:

kb = kortbeen
hlb = halwe langbeen
lb = langbeen
piv = pivot
gs = glipsteek
ks = kettingsteek

Kartelrandjie:
Hekel die kombersie om deur 'n kb in elke steek te maak. 
By die hoeke word 1kb, 1ks en 1kb gemaak. Heg wol met gs aan die 1e kortbeen wanner die ry voltooi is.
Ry 1: Maak 5ks, skip 2 kb, maak 'n kb en weer 5ks, skip 2 kb. Herhaal hierdie reg rondom. Heg met gs.
In die hoeke word 1 kb gemaak, 5 ks en 1 kb tussen die 2 kb van ry 1.


Ry 2: Vorm trossie met 1kb, 1hlb, 1lb. Vorm pivot deur 3 ks te maak en heg dit aan die bokant van die lb. Voltooi die trossie met 1hlb en 1kb. (Daar is 5 bene in elke trossie).
In die hoeke word die trossie in die 5ks gemaak net soos in die ander.

Omdat die trossie meer steke as die kombersie het sal die randjie krul.


Die Olifantjie:

Benodig:
Basiese kleur vir olifant (room).
Kontrasterende kleur vir ore, indien verkies.
Swart en wit wol of gare om ogies te maak. 
Stopmateriaal om die olifant te stop (batting).
Hekelnaald (Ek het met 'n kleiner naald gehekel, 3.5mm.

Nota:
Die hele olifantjie word met kortbeentjies (kb) gehekel. 
Om verwarring met die aanhoudende herhaling van kb te vermy praat ek van steke. Wanneer ek dus van steke praat bedoel ek kortbene (kb). 

Belangrik!!
!! Onthou dat babas alles in hulle mond druk. Die gehekelde olifant ook!
Vermy dus stopmateriaal wat kan uitrafel deur die hekelgate of draai stopmateriaal in dun materiaal (soos sykous of voile toe) en stop dan die olifant daarmee.

Hekel die ogies stewig vas en vermy gekoopte ogies of knopies wat kan loskom of afbreek en in baba se keel kan beland!

Instruksies:
Plaas die merker aan die begin van elke ry en skuif merker op soos wat die ry voltooi word.

AS jy dalk per abuis 1 ry meer of minder het, of 'n steek meer of minder het, moenie daaroor bekommer nie. Die olifantjie sal nog steeds mooi uitkom.

Afkortings:
kb2tes = hekel 2 kb tesame

Hoe om Kb2tes te doen:
Steek naald in die kortbeen. Wol oor naald en trek 'n lus. Herhaal in volgende kortbeen. Wol oor naald en trek dan naald deur al 3 die lusse op die naald.

Die olifant se kop:

Instruksies:
Begin deur 2ks te maak.
R1: Werk 6 kb in die 2e ks van die naald, moenie heg nie (6kb)
R2: Werk 2 kb in elke steek in die rondte (12kb)
R3: (Kb in 1e steek, 2kb in volgende steek) x  6 keer (18kb)
R4: (Kb in volgende 2 steke, 2kb in volgende steek) x 6 keer (24kb)
R5: (Kb in volgende 3 steke, 2kb in volgende steek) x 6 keer (30kb)
R6: Werk kb in elke steek reg rondom (30kb)
R7: (Kb in volgende 4 steke, 2kb in volgende steek) x 6 keer (36kb)
R8 - 14: Kb in elke steek reg rondom
R15: (Kb in volgende 4kb, kb2tes) x 6 keer (30kb)
R16: (Kb in volgende 3kb, kb2tes) x 6 keer (24kb)
Ry 17: werk in die agterste lus van die steke: *kb in volgende 2 steke, kb2tes, herhaal van * rondom (18 kb)
Ry18: (Kb in volgende steek, kb2tes) x 6 keer (12 kb)
Stop kop effe op.
R19: (Kb2tes) x 6 keer. heg met gs in die 1e steek. (6kb)
Heg af. Laat genoeg wol om mee toe te werk. Weef die wol deur die laaste rondte en trek steke toe. Moenie die wol afknip nie.

Olifant se Trompet:
Nota:  Stop die trompet liggies vanaf ry 6 soos jy vorder anders gaan jy sukkel om die stopsel in te kry.

Instruksies:
Begin by die punt van die trompet. Ks2.
R1: Werk 6kb in die 2eks van die naald. Moenie heg nie. (6kb)
R2: Werk in die agterste lus van die steke, kb reg rondom.
R3-6: Kb in elke steek reg rondom.
R7: Werk 2kb in die volgende steek, kb in die volgende 5 steke (7kb).
R8-9: Kb in elke steek reg rondom.
R10:Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 6 steke (8kb)
R11: Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 7 steke (9kb)
R12: Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 8 steke (10kb)
R13: Werk 2kb in volgende steek, kb in volgende 9 steke (11kb)
R14:Kb in volgende steek, 2kb in volgende 4 steke, (kb2tes) x 3 keer (12kb)
R15: Kb in volgende 2 steke, 2 kb in volgende steek, kb in volgende steek, 2kb in volgende steek, kb in volgende 7 steke. Heg met gs in 1e steek. (14kb)
Heg af. Laat wolstert vir toewerk.
Stop liggies op.

Ore: 
Nota:  Maak 2 elk van 2 kleure = 4. (ek het 2 van die ore met ‘n effe groter naald en ‘n ander kleur gemaak sodat die agterste oorflap effe groter vertoon.

Instruksies:
Maak 6 ks.
R1: Kb in 2e ks van die naald af en in elke ks. (5kb)
R2: Ks1, 2kb in elke steek, draai (10kb)
R3: Ks1, kb in elke steek. Draai.
R4: Ks1, kb in eerste 4 steke, 2 kb in volgende 2 steke, kb in laaste 4 steke. Draai. (12kb)
R5: Ks1, kb in elke steek. Draai.
R6: Ks1, kb in eerste steek, kb2tes, kb in volgende 6 steke, kb2tes, kb in laaste steek (10kb).
Heg af.

Afronding:
Werk die trompet aan die olifantkop deur oorhands die laaste rondte steke vas te werk.
Vou die trompet liggies soos jy wil hê hy moet staan.

Meet min of meer waar jy die ore en die oë wil hê. Rug die aparte ore aanmekaar en werk elke oor aan deur die naald deur beide ore te steek en dan deur die kop.

Ogies: (maak 2)
Nota:  Met swart wol en 3 mm naald:

Instruksies:
Maak 2ks.
R1: Werk 6kb in 2e ks vanaf naald.
R2: Ks 2, kb 1 in 1e steek. Werk nou 2 kb in elke steek rondom. Heg met gs in 1e kb.
R3: Ks 2, kb 1 in 1e steek. Werk 2kb in volgende 4 steke (8kb). Heg af.
Die oë sal dus so effe ovaal vertoon.
Voltooi die ogie met wit wol. (ek het sommer so 4 stekies oorhands met my stopnaald gewerk).
Werk ogies vas.

Indien jy ronder oë verkies, voltooi rondte 3 deur 2kb in elke steek te maak. 
Indien jy groter oë verkies kan jy nog 'n rondte kb voor die laaste ry hekel.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon