Purper en pers plesier ... maklike oorgooi kombers


Hekel kombers in ouma blokkie patroon 
(gratis patroon, slegs vir eie gebruik) 


(gratis patroon slegs vir tuisgebruik of vir die omgee kas). 


Hierdie kombers word soos jy vorder aanmekaar gehekel en dis ‘n heerlike winter projek omdat jy sommer onder jou kombers kan sit terwyl jy hekel!

Maklik vir beginners – ‘n meet en pas, ‘n afvalwol patroon

Benodigdhede:
·       5mm hekelnaald
·       Stopnaald om wolle weg te werk (probeer sover as moontlik die los rafels vashekel of wegwerk soos jy aangaan om moeite te spaar.)
·      Ongeveer 9 – 10 100g bolle dubbelbrei wol in die kleure van die keuse.
(    (Hou ingedagte omdat woldikte in kleure en make van wol verskil sal jy moontlik meer of minder wol gebruik. Hierdie kombers is ‘n omgee-produk so ek het die kleure gemeet en pas soos ek aangaan.
As jy 5 kleure van 2 bolle elk het sal dit meer as genoeg wees om die blokke en rand te vorm.)

Die basiese patroon bestaan uit ‘n ouma-blokkie met 6 rye, hier kan jy jou blokkie grootter of kleiner maak, afhangende hoeveel wol jy tot jou beskikking het.
My kombers is ongeveer 132cm x 115cm. Jy kan joune groter of kleiner maak deur meer of minder blokke te hekel of meer of minder rye van die rand te maak.

Afkortings:
Gs = Glipsteek
Ks = Kettingsteek
Lb = Langbeen
Kb = Kortbeen

AANWYSINGS:
Die basiese ouma blokkie word gehekel in trossies van 3 langbene elk. In baie patrone word die trossies van langbene geskei deur 1 of 2 kettingsteke. Ek verkies egter net om die kettingsteke in die eerste ry te maak om hoeke te vorm en dan verder ks in die hoeke te gebruik en nie tussen die trossies nie, omdat dit soms maak dat die kombers skeef trek of rimpels maak.

HOE OM TE BEGIN:
1.   Begin deur ‘n glipsteek op jou naald te maak. Maak 6 ks.
2.   Gs in die 1e ks. Dit vorm ‘n ring.
3.   Maak nou 3 ks.  (hierdie tel as jou 1e lb)
4.   Maak nou 2 lb in die ring.
5.  Maak 2 ks en maak dan 3 lb in die ring. Herhaal dit 2 maal. (Jy moet nou ‘n totaal van 4 trossies met 3 lb elk hê met 2 ks tussen elke trossie. Hierdie vorm ry 1.)
6.   Maak 2 ks en gs in die volgende lb. Gs tot by die 2 ks-spasie.
7.  In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb hierdie vorm jou 1e hoek.
8.   In die volgende ks-spasie, maak 3 lb. Maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm die volgende hoek. Herhaal in die volgende 2 ks-spasies om jou 4 hoeke te vorm. (Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke). Moenie bekommer as dit lyk of jou werk wil krul nie, dit sal herstel soos jy vorder.
9.   Heg aan volgende lb met gs. Gs tot in die volgende hoek.
10. In hierdie spasie, maak 3 ks (tel as 1e lb) en 2 lb. Maak 2 ks en in dieselfde spasie, maak nog 3 lb.
11. Maak 3 lb in die volgende oop spasie.
12. In die volgende hoek, maak 3 lb, maak 2 ks en weer 3 lb. Dit vorm dan die hoek. (Let wel, daar is nie ks tussen die trossies nie, slegs in die hoeke)
13. Herhaal stap 12 en 13 om die hoeke en ry te vorm. Gs om te heg en gs tot in volgende hoek.
14. Stappe 10 tot 14 vorm die basiese patroon.
Hekel totdat jy 6 rye het.
Moenie afheg nie want jy hekel sommer die blokke aanmekaar soos wat jy werk.

Onthou:
  Met elke ry sal die middelste trossies van 3lb meer word soos wat jou blok groter word.
   Onthou om net in die hoeke 2ks te maak en nie tussen die trossies in die ry nie.

Heg blokke aanmekaar:
Hierdie deel kan dalk bietjie ingewikkeld lyk maar is eintlik baie maklik. Die groot kuns hier is om te onthou dat jou regtekante van die blokke aan die eenkant en die verkeerde kant aan die anderkant moet wees. So maak seker een van jou blokke is nie onderstebo as jy dit vashekel nie. Twee randte van jou blok sal aan 2 ander blokke se randte vasgehekel word. Die patroon sal homself herhaal totdat al die blokke vas is.

METODE:
Begin in ‘n hoek van jou blok. Maak seker dat jy die 1e trossie van 3 lb gehekel het.
Plaas nou twee blokkies teenmekaar.  I.p.v. die ks, maak nou ‘n kb in die ander blokkie se hoek tussen sy twee trossies waar die ks gemaak was.
Maak die volgende trossie van 3 lb aan jou blokkie.
Maak nou ‘n kb in die ander blokkie se spasie tussen sy trossies.
Maak die volgende trossie van jou ry.
Maak nou ‘n kb in die ander blokkie se volgende spasie tussen sy trossies.
Maak die volgende trossie van jou ry. Gaan voort totdat die hele ry voltooi is.
Wanneer jy by die volgende hoek kom, maak ‘n trossie van 3lb, heg met kb aan die ander blokkie se hoek. Neem nou ‘n 3e blokkie. Heg direk met kb aan sy hoek. Maak jou 2e trossie van 3 lb van jou hoek.
Gaan voort soos bo in jou ry om die 1e en 3e blokkie aanmekaar te werk.
Heg af as by volgende hoek kom met gs.

KLEURPATROON:
Opsioneel:
Hier hang dit af hoeveel kleure en blokke jy langs mekaar wil sit. Maak ‘n blok van elke kleur en begin dan weer met kleur 1 en gaan so voort. As jy onseker is maak eers 2 blokke van elke kleur en lê jou patroon uit. Heg dan aanmekaar.
Onthou: In die 2e ry skuif die kleure van die blok in ry 1 op. Die laaste kleur word dan die 1e kleur blok in die volgende ry blokke. Dit gee dan dat die reghoek patroon van die kleure.
My kombers het 6 blokke x 7 blokke wat dit effe reghoekig maak.

PERS PATROON blokke:
Heg kleure 5 blokke aanmekaar in die 1e ry. Maak dan nog ‘n blok van kleur 1 en kleur 2 en heg aan = 7 blokke. Skuif in ry 2 die kleure soos bo verduidelik. Die laaste kleur sal altyd die 1e kleur in die volgende ry wees as jy ‘n onewe getal blokke hekel.
 

RAND:
Hier kan jy lekker met die wol wat oor is speel. Jy kan elke ry ‘n ander kleur maak, of meer as een ry met ‘n kleur of alles net 1 kleur, afhangende van hoeveel wol jy het.
PATROON rand:
Heg aan in hoek en volg die trossie patroon van die kombers.
Maak ‘n trossie in elke spasie tussen die trossies van jou vasgewerkte blokke se rand.
Onthou om in die hoeke van jou kombers, ‘n ks tussen die 2 trossies te maak.
Hekel soveel rye soos wat jy wil. (My wol het 15 rye toegelaat).

Afronding:
Heg met gs aan en hekel ‘n kb in elke steek van die laaste ry.
Heg af en werk alle los wolsterte weg.

©A.deVos-2020

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die maklikste vingerlose gebreide handskoene ooit!

Die basiese Ouma-blokkie / kombers

Gebreide sokkie patroon